Tiaan Espach|Axial-Flow 150-stroperreeks
Axial-Flow 150-stroperreeks
In die hart van Noordwes, waar die klank van die aarde se vrugbaarheid weerklink, deel Tiaan Espach, betrokke by Jan van Rensburg Boerdery naby Brits, sy ervaring met CASE IH se 5-Reeks stroper.
Die Case IH 5150 stroper is ‘n kompakte en liggewig stroper, spesifiek ontwerp met die boer se behoeftes in gedagte. Waar boere meestal uitgelewer is aan elemente buite hulle beheer, is 'n stroper nodig wat ten spyte van ongunstige omstandighede die werk gedoen kan kry. Waar die groter en swaarder masjiene dikwels geneig is om vas te sit - veral in turfgrond of nat omstandighede - kom die 5 Reeks maklik in die lande.
Volgens Tiaan is die gewig van ‘n stroper baie belangrik: “ Wanneer jy vinniger in ‘n land kan inkom en sodoende die oes vinniger kan afhaal, kry jy meestal beter grade op jou oeste.” Dit maak winsgewendheid dan uit die aard van die saak baie beter. “Die vorige seisoen se strooptyd was baie uitdagend as gevolg van 'n klomp reën wat geval het ‘n week voordat ons wou begin stroop. Die CASE IH 5150 wat ons toegerus het met rusperbande is die enigste stroper wat in hierdie omstandighede in die lande kon kom.”
Die vorige seisoen was verder uitdagend omdat daar plekke was waar die kaf nog groen was, terwyl die pitte al droog was. Volgens Tiaan het die Axial Flow kenmerk van die stroper dit wel moontlik gemaak om voort te gaan en in daardie omstandighede steeds te kon stroop.
Data begin al hoe meer die boer se raadgewer word in die tyd waarin ons vandag leef. “Met die data wat ingewin is in hierdie tyd, kon ons die swak kolle in die lande identifiseer en in die daaropvolgende seisoen die nodige stappe neem om ‘n meer egalige oes te kry,” het Tiaan gesê.
Grond kompaktering veroorsaak op sy beurt kleiner opbrengste, en daarom is dit iets wat elke boer wil vermy. Die feit dat die 5051 stroper nie so swaar is nie, het veroorsaak dat daar heelwat minder kompaktering was. Die stroper het verder ook ‘n indruk gemaak wat die die duursaamheid en kwaliteit betref. “Die bougehalte van die stroper is goed en die tegnologie daarin sal nog vir jare hou,” het Tiaan gesê.
Met brandstof wat een van die grootste uitgawes vir ‘n boerdery is, word beter brandstof verbruik oral verwelkom. “Die dieselverbruik op die 5051 is baie goed en ons het ‘n groot besparing ondervind in vergelyking met vorige jare” het Tiaan beaam.
Die 5150 Stoper is geskik vir kleiner en medium grootte boerderye. Volgens Tiaan beskik die stroper oor alles wat ‘n boer wil hê: Hoë kapasiteit en maklike toeganklikheid, terwyl dit lig op brandstof is, maar ook in gewig. “ Ek sal hierdie stroper vir enige boer aanbeveel - veral die medium en kleinerskaal boere. Die stroper kan in moeilike omstandighede maklik in en uit die lande beweeg” het Tiaan gesê.
Die grootste teken dat ‘n boer tevrede is met ‘n masjien, is seker as hy ‘n tweede of derdemaal geld spandeer op ‘n sekere model. “Ons het in 2018 ons eerste 5 Reeks stroper aangekoop en vandag staan hier 4 sulke stropers wat die werk vir ons baie vergemaklik.”
Die 5051 is nog ‘n voorbeeld van waar die toepassing van innovering en tegnologie die allerdaagse werk, prosesse en besluitneming van ‘n boerdery drasties verbeter het. Hierdie kompakte stroper maak die deur tot presisie-boerdery vir elke boer daar buite, wyd oop.